Ontdek die Akademia-kampus.
Verken die aanlyntoer hier.
Nuus-artikels

Wat erf die volgende geslag van vandag se beleggings?

In Augustus 2019 het Akademia ongeveer 700 aanlyn studente en nog geen kampusaanbod gehad nie. Daardie maand het Kanton die koopooreenkoms geteken vir die grond waarop die nuwe Akademia-kampus in Pretoria vandag verrys.

Ons moes vooruit dink. Grond bekom, goedkeurings kry en ’n ontwikkeling beplan vir ’n instelling wat nog aan die begin van sy groeipad was. Vandag kry daardie besluit gestalte in die geboue waarin duisende jongmense hul studentejare sal deurbring.

Vir ’n belegger is dit ’n besondere geleentheid: jou kapitaal kan ’n finansiële opbrengs verdien en terselfdertyd help bou aan instellings waarin jy glo. By Kanton noem ons hierdie bykomende waarde vir die Afrikaanse gemeenskap ’n *kultuurdividend*.

Dit is die vennootskap tussen kultuur en kapitaal waarop ons die maatskappy bou.

’n Goeie saak verdien ’n goeie belegging

Kanton ontwikkel en besit eiendom wat Afrikaanse instellings die ruimte gee om te groei. Beleggers voorsien kapitaal, ons ontwikkel en bestuur die eiendomsbates, en instellings kry toegang tot die infrastruktuur wat hulle nodig het.

Om dié vennootskap te laat werk, moet Kanton kommersieel kompeterend wees.

“Ons kan nie van beleggers verwag om swak opbrengste, swak bestuur of swak gehalte te aanvaar omdat die saak goed is nie,” sê Henk Schalekamp, besturende direkteur van Kanton.

Die belangrikheid van die instellings plaas ’n groot verantwoordelikheid op ons. Ons moet gehalte lewer, kapitaal omsigtig aanwend en risiko verantwoordelik bestuur. Dit is hoe ons die belegger se belange dien en ’n stewige grondslag vir die instellings se groei help skep.

Sol-Tech het die model bewys

Toe Kanton in 2019 tot stand gekom het, moes Kanton homself eers bewys.

In 2020 het ons die Sol-Tech-kampus te midde van die Covid-pandemie ontwikkel. Ons het dit op tyd en onder begroting afgelewer. Sol-Tech het in 2021 daar ingetrek en sedertdien van krag tot krag gegroei.

Die instelling het ongeveer 1 500 studente op kampus, met ’n verdere 1 500 wat hul praktiese opleiding by werkgewers doen. In 2024 het Kanton ook ’n koshuis met ongeveer 400 beddens ontwikkel en aan Sol-Tech beskikbaar gestel. Dié koshuis is reeds ten volle beset.

Sol-Tech het ons ontwikkelingsvermoë op die proef gestel en Kanton het bewys hy kan ontwikkel en aflewer. Die groei van die instelling en die vraag na huisvesting het ook gewys hoe verdere beleggingsgeleenthede ontstaan wanneer ’n sterk instelling uitbrei.

Akademia neem die model na ’n groter skaal

Die nuwe Akademia-kampus in Pretoria bou op daardie ervaring.

Agter die bouwerk lê vyf jaar se voorbereiding: grondgebruiksregte, omgewingsgoedkeurings, ontwerp en finansiële beplanning. Ons het die aanvanklike massagrondwerke uit eie bronne befonds terwyl ons kapitaal begin werf het.

’n Belangrike mylpaal was die registrasie van sowat R1,4 miljard se finansiering -  dit was vir die herfinansiering van Kanton se bestaande portefeulje en die ontwikkelingsfinasiering vir die Akademia-kampus in Pretoria.

Die banke het die model getoets, ons prestasie by Sol-Tech beoordeel en op kommersiële gronde finansiering beskikbaar gestel. Dit is betekenisvol vir beleggers: die ontwikkeling se sakemodel en ons vermoë om dit uit te voer is deur toonaangewende banke se kredietkomitees oorweeg en goedgekeur.

Die eerste fase van die nuwe kampus word teen ongeveer R1,8 miljard ontwikkel. Dit voorsien sowat 85% van die uiteindelike akademiese kern en vier koshuise met 750 beddens. Die doelwit is dat Akademia in 2028 die nuwe kampus in Pretoria met ongeveer 3 500 kampusstudente betrek.

Die volledige meesterplan, van ongeveer R3,2 miljard, maak voorsiening vir verdere akademiese fasiliteite, ’n landboufakulteit met ’n proefplaas, sportgeriewe en altesaam agt koshuise met ongeveer 1 500 beddens. Deur in fases te ontwikkel, word kapitaal optimaal aangewend namate die instelling groei.

Ons bou vir dekades

Die volgende projekte neem reeds vorm aan. In die Paarl is grond aangekoop en het beplanning vir ’n toekomstige Akademia-kampus begin. In Pretoria is grond vir Pretoria Gimnasium bekom, waar ons aan ’n model vir onafhanklike privaat Afrikaanse skole werk.

Hierdie projekte is op verskillende stadiums van beplanning en ontwikkeling. Saam vorm hulle deel van ons werk om ’n eiendomsportefeulje te bou wat oor tyd saam met die Afrikaanse gemeenskap se instellings kan groei.

Dit verg geduld en deeglike beplanning. Eiendomsontwikkeling en langtermynbeleggings dra risiko. Elke projek moet kommersieel verantwoordbaar wees en elke belegging moet met die nodige omsigtigheid bestuur word.

Die langtermynambisie bly egter duidelik.

“Ons wil leefruimtes vir Afrikaans bou wat lank nadat ons almal weg is, nog daar sal staan,” sê Schalekamp.

Vir beleggers wat hierdie ambisie deel, bied Kanton die geleentheid om kapitaal te belê in ’n saak waarin hulle glo. Ons werk is om daardie kapitaal in goed bestuurde eiendomsbates te omskep wat ’n kompeterende opbrengs nastreef en instellings oor dekades heen dien.

Die volgende geslag erf dan ’n skat waarop hulle kan voortbou. Die gehalte van vandag se belegging verseker dat die kultuurdividend oor geslagte strek.

Deel hierdie:

+27 (0)12 111 0107
navrae@kanton.co.za

1 Klarinet Straat, Hillside Offices, Lynnwood, Pretoria, 0081

Kanton Beleggings (Pty) Ltd

Mobile Button BackgroundContact Button Animation