Van klaskamer tot koshuis: studente vertel hoe Kanton se leefruimtes hulle toekoms vorm

Toe Kanton en Sol-Tech saam die kampus en Plaashuis-koshuis opgerig het, was die droom duidelik: dit moes meer wees as net geboue.
Dit moes ’n leefruimte wees waar jong Afrikaanse ambagslui nie net vaardighede leer nie, maar ook ’n tuiste kry, ’n gemeenskap ervaar en ’n toekoms kan bou.
Vandag, ’n paar jaar later, is dit juis die studente se stemme wat wys hoe dié droom waar geword het. Hulle stories bevestig dat Kanton se leefruimtes nie net op papier bestaan nie – dit is tasbaar in die daaglikse lewe van elke student wat daar instap.
Uit die stories van studente staan vier kenmerke van ons leefruimtes duidelik uit: dit is sonder twyfel plekke van groei, gemeenskap, kultuur en taal, en nuwe hoop vir die toekoms.
Groei as mens en ambagsman
Vir Dylan Venter het Sol-Tech meer geword as net ’n studieplek.
“Ek het Sol-Tech as my studietuiste gekies omdat ek gesien het dit is waar ’n mens sal groei, nie net in jou studierigting nie maar ook as mens. Ek het gesien dat Sol-Tech na ‘n beter toekoms strewe, en dat hulle ’n passie het vir die opleiding en vorming van jong ambagsmanne.”
Hy vertel hoe die studentelewe veilig en goed gestruktureer is, en hoe dit hom nie net toerus vir ’n beroep nie, maar ook leer hoe om eendag ’n besigheid reg te bestuur. “Sol-Tech het my waardes geleer wat ek nie net in besigheid nie maar orals in my lewe kan gebruik,” sê Dylan.
Hier is dit duidelik: groei is veel meer as tegniese kennis – dit is karaktervorming.
Gemeenskap en saamkuier
Vir Drikus Hattingh is die Plaashuis-koshuis die hart van sy ervaring.
“Om deel te wees van die Plaashuis is nie net om deel te wees van ’n koshuis nie, maar dit is om deel te wees van ’n gemeenskap wat vir mekaar sorg. Van lekker saam braai in die aand tot mekaar uithelp met voorbereidings vir toetse – daar is altyd iemand wat regstaan om te help.”
Hy vertel hoe die koshuis en kampus saam ’n gebalanseerde sosiale lewe skep: sport, debataande, kunstenaars en die Vonkfees. “Ons studentelewe is propvol en dit alles is spotgoedkoop,” sê Drikus. Hierdie saamhorigheid is presies wat Kanton met die ontwerp van die kampus en koshuis wou bereik – plekke waar jongmense nie net saam leer nie, maar ook saam lééf.
Ook Hugo Haasbroek ervaar dié unieke gemeenskapsgees.
“By Sol-Tech herken jy altyd ’n gesig, en kuier mens lekker gesellig rondom ’n braaivleisvuur saam met jou medestudente, veral wanneer die Springbokke speel.”
Só word vriendskappe gesmee wat ’n leeftyd hou.
Taal en kultuur as fondament
Wanneer Edrich Keyse terugdink aan sy eerste Sol-Tech opedag, onthou hy die trots wat hy gevoel het.
“Ek het Afrikaanse waardes en ’n trotse kampus ervaar toe ek die eerste keer ’n opedag bywoon. Toe ek die geleentheid kry om in Afrikaans te swot, het ek nie twee keer gedink nie.”
Vir hom is dit meer as net opleiding – dit is die geleentheid om in sy moedertaal te studeer en deel te wees van ’n kampus waar almal mekaar vriendelik groet. “Daar word gereeld dinge op kampus gereël waar ons almal lekker saam kan kuier,” sê hy. Hierdie kultuur van vriendelikheid en trots wys dat Kanton se leefruimtes nie net in bakstene en beton lê nie, maar in die doelbewuste keuse om Afrikaanse ruimtes te bou en te bewaar.
Ook Hugo beklemtoon dit:
“By Sol-Tech kan ek my passie ten opsigte van elektriese asook meganiese velde ten volle uitleef. En natuurlik is dit vir my ook ’n bonus om in my moedertaal, Afrikaans, te kan leer.”
’n Toekoms vol moontlikhede
Angelique Coetzee het aanvanklik nie geweet wat sy eendag wou doen nie. Maar vandag sien sy met selfvertroue na haar toekoms uit.
“Voordat ek by Sol-Tech begin het, het ek geen idee gehad van wat ek eendag wou doen nie. Nou het ek ’n duidelike pad vorentoe met die nodige tegniese vaardighede én ’n netwerk van mense in die bedryf.”
Sy beklemtoon hoe Kanton se leefruimte-benadering haar opleiding en lewe kom rig het het: “By Sol-Tech voel jy deel van ’n familie. Die kampus het ’n sterk gemeenskapsgevoel en almal help mekaar, of dit nou by klas of sosiale geleenthede is.” Vir haar is die kombinasie van wêreldklas fasiliteite, praktykgerigte opleiding en ’n ondersteunende gemeenskap die resep wat haar toekoms ontsluit.
Soos Hugo dit saamvat:
“Huidiglik is daar ’n groot aanvraag na mense in die ambagslui. Sol-Tech gee my die geleentheid om alle nodige vaardighede te leer, ten einde ’n groot sukses van my beroep en lewe te maak.”
Meer as bakstene en beton
Wanneer ’n mens na hierdie studente se stories luister, raak dit duidelik:
Kanton se leefruimtes is nie net geboue nie. Dit is tuistes waar jongmense groei, waar gemeenskappe vorm, waar Afrikaanse kultuur bewaar word en waar toekomsdrome bewaarheid word.
Elke aanhaling wys iets van die groter prentjie – dat eiendomsontwikkeling, as dit reg gedoen word, dieper impak het as wat enie balansstaat ooit kan wys. Dit verander lewens. Dit bou waardigheid. Dit maak toekomsdrome moontlik.
By Sol-Tech staan die kampus en koshuis vandag as ’n lewende voorbeeld van wat gebeur wanneer kapitaal en kultuur hande vat. En die stories van die studente is die beste bewys dat hierdie belegging vrug dra.
Wil jy hê jou belegging moet ook ’n reuse verskil maak?
Lees meer oor nóg Kanton leefruimtes en sluit aan by ons toekomsbouer-veldtog.
Besoek www.kanton.co.za.