Bouplekke word leefruimtes: Kanton se rol in Sol-Tech se wêreldklas-tuiste

Daar is oomblikke wat betekenisvol bydrae tot die rigting van ’n gemeenskap – waar visie, deursettingsvermoë en samewerking iets tot stand bring wat groter is as die som van sy dele. Die oprigting van Sol-Tech se wêreldklas-kampus was só ’n oomblik.
Reeds met die ontwerp van die kampus het almal betrokke die einddoel voor oë gehad. Ons het geweet dit is meer as net ’n bouprojek. Dit was ’n belegging in jongmense wat met trots in hul moedertaal ambagte bemeester. Dit was ’n besluit om vaardighede, waardigheid en ekonomiese selfstandigheid in die hande van ons eie gemeenskap te plaas.
Wat hierdie prestasie besonders gemaak het, was die tydsgewrig van die geskiedenis waarin dit plaasgevind het: Terwyl die wêreld weens die Covid-19-pandemie tot stilstand gekom het, ekonomieë gekrimp het en onsekerheid oor die toekoms geheers het, het Kanton saam met ’n toegewyde span professionele vennote volgehou en gebou. Teen alle verwagting in is die projek binne begroting én betyds voltooi. Vandag staan die Sol-Tech-kampus as ’n lewende monument van hoop en as bewys dat ons in staat is om groot drome werklikheid te maak – selfs in die moeilikste van omstandighede.
“Vir my persoonlik, en vir ons by Sol-Tech, was die bou van hierdie kampus saam met Kanton ’n diep persoonlike ervaring en het 'n groot indruk gemaak. Dit was nooit net bakstene en planne op papier nie – dit was ’n droom vir ons studente se toekoms,” sê Paul van Deventer, besturende direkteur van Sol-Tech. “Om vandag te sien hoe ons studente hier leef, leer en trots is op wat hulle doen, laat my besef watter verskil ’n ware vennoot kan maak. Kanton het vir ons meer as ’n gebou gegee – hulle het ’n tuiste geskep waar vaardighede, waardigheid en hoop hand aan hand loop. Dis iets waarvoor ek innig dankbaar is.”
’n Kampus wat aanhou groei
Die kampus het sedertdien nóg ryker geword aan betekenis en geleenthede. Die Plaashuis, Sol-Tech se eerste koshuis, bied ’n tuiste vir 400 studente. Dit is ’n ruimte waar jongmense saam leer en saam leef – waar verhoudings en herinneringe gesmee word wat ’n leeftyd hou. Vir baie studente was dit die eerste keer dat hulle ʼn plek “huis” kon noem weg van hul gesinne, maar waar hulle steeds veilig en omring word deur mense wat in hul toekoms glo. Hierdie fasiliteite gee meer as net ʼn dak oor hul kop – dit gee ʼn gevoel van tuiswees en trots om deel te wees van iets groter.
“Geboue maak nie ’n instelling suksesvol nie – maar die regte fasiliteite verander alles. Kanton het Sol-Tech ’n kampus en koshuis gegee wat ons na ’n nuwe vlak gebring het,” sê van Deventer
Die voetgangerbrug wat die koshuis en kampus verbind, is meer as net staal en beton; dit simboliseer die oorgang na ’n nuwe toekoms – ’n brug tussen drome en daadwerklike prestasie. Vir Kanton simboliseer dit die brug tussen kultuur en kapitaal.
Kanton het boonop sopas 600 vierkante meter se addisionele opleidingsruimtes vir Sol-Tech voltooi om die opleidingsaanbod van Sol-Tech verder te verbeter. En met die nuwe vaktoetssentrum, waar honderde studente jaarliks hul vaktoetse gaan aflê, word die laaste skakel tussen opleiding en die werksplek gesluit. Hier word jong ambagslui nie net vaardig gemaak nie – hulle word voorberei om bouers van ’n sterker ekonomie te wees.
“Saam met Kanton kon ons ’n plek bou waar vaardigheid, waardigheid en hoop elke dag hande vat.”
’n Voorbeeld van wat moontlik is
Die suksesvolle aflewering van Sol-Tech se kampus het meer gedoen as om ’n opleidingsinstansie ’n nuwe tuiste te gee. Dit het gewys dat daar ’n ander manier is om groot projekte aan te pak: met visie, verantwoordelikheid en ’n diepe verbintenis tot die vennootskap tussen kultuur en kapitaal tussen gemeenskapsbelang en goeie finansiële opbrengste.
Meer as bakstene – ’n nalatenskap
By Kanton glo ons dat elke projek ’n storie vertel. Die storie van Sol-Tech se kampus is een van hoop, selfstandigheid en samewerking. Hier sien ons hoe kapitaal en kultuur mekaar versterk – hoe eiendomsontwikkeling meer kan wees as net ‘n winsgewende belegging, en ’n blywende bydrae tot ’n gemeenskap kan word.
“Vir Sol-Tech was die bou van ons kampus saam met Kanton meer as ’n infrastruktuurprojek – dit was ’n geloofsdaad in die toekoms van jongmense. Kanton het nie net geboue neergesit nie, hulle het ’n ruimte geskep waar studente kan groei, leer en trots kan wees op hul ambag en hul moedertaal. Hierdie kampus gee ons die vermoë om wêreldklas opleiding aan te bied en ’n ervaring te skep wat jongmense bemagtig om nie net werk te kry nie, maar om bouers van ’n sterker gemeenskap en ekonomie te wees. Ons is dankbaar vir ’n vennoot wat saam met ons droom en dit moontlik maak,” sluit van Deventer af.
Wanneer jy sien hoe ʼn student op sy eerse dag onseker instap en maande later selfversekerd uitstap – met trots in sy werk en in homself – besef jy die krag van ʼn regte fasiliteit. Hier bou ons nie net vaardighede nie, ons bou menswaardigheid en nuwe hoop.
Die pad vorentoe
Met Sol-Tech as bewys van wat moontlik is, staan Kanton nou op die drumpel van die volgende groot projek: die oprigting van Akademia se kampus in Pretoria-Oos. Ons bring dieselfde toewyding, gehalte en visie om nóg ’n leefruimte vir Afrikaans te skep – ’n ruimte wat van geslag tot geslag vrug sal dra.
Elke baksteen wat ons lê, elke brug wat ons bou, is ’n belegging in ’n toekoms waar ons kinders en kleinkinders trots sal wees om te leef en te werk.
Word deel van hierdie reis. Word ’n Toekomsbouer.
Besoek www.toekomsbouer.co.za