Van grond tot geboue: Die massiewe ontwikkeling agter Akademia se nuwe kampus in Pretoria-Oos
In Pretoria-Oos staan die stof soos wat die kontrakteurs vorder met die massagrondwerke, alles met die oog op ‘n kampus vir Akademia – ’n tuiste vir ’n taal en ’n droom. Akademia se nuwe kampus in Pretoria-Oos, wat deur Kanton opgerig word, is ’n reuse-ontwikkeling wat soos ’n dorpie verskeie geboutipes en ruimtes behels, sodat dit as ’n geintegreerde leefruimte met verskeie funksies kan funksioneer. Dit is ’n plek wat die toekoms van 5 000 voltydse voorgraadse studente en sowat 1 500 nagraadse studente gaan huisves – en terselfdertyd ’n lewende simbool van ’n gemeenskap se geloof in sy taal, sy toekoms en sy mense.
Die syfers is byna ondenkbaar. Meer as 23 kilometer ondergrondse pype sal uiteindelik onder die grond lê – genoeg om die afstand van Pretoria tot Centurion te dek. Daar sal 19,3 miljoen liter waterstoorplek wees – dit is sewe Olimpiese swembaddens vol, beskikbaar vir drinkwater, brandveiligheid en besproeiing. Intussen word 220 000 kubieke meter grond tans verskuif – genoeg om ’n trein van 71 kilometer lank vol rooi turf- en kleigrond te laai. Die 7,1 miljoen stene sal van Johannesburg tot in Kaapstad strek sou dit ent-tot-ent gepak word. Plafonne van 30 000 vierkante meter dek drie rugbyvelde. Die pleisterwerk van 110 000 vierkante meter is genoeg om 1 375 standaard skool klaskamers se mure te pleister. Die optiese fesel wat die perseel gaan dek span sowat 40km. Ook die paaie is beplan op groot skaal: die kampus sal uiteindelik meer as 30 000 vierkante meter teerpad hê – ongeveer vier rugbyvelde groot – wat die verskillende dele van die terrein met mekaar gaan verbind.
Maar agter hierdie reuse-syfers lê iets veel meer betekenisvol. ’n Leefruimte vir Akademia waar denke en hart gevorm word met die oog op ’n vrye toekoms. ’n Taal wat ’n hoëronderwys tuiste nodig het. ’n Droom wat op ’n vaste fondasie gebou word. ’n Plek waar studente en dosente, gesinne en gemeenskappe, saam in ’n ruimte bymekaarkom.
Die projek het reeds die verbeelding aangegryp. Nie net die meesterplan van meer as R3 miljard of die omvang van die kampus wek ontsag nie, maar die vertroue wat dit verg om só ’n onderneming aan te pak. Hierdie ontwikkeling is ’n openbare verklaring dat daar steeds mense is wat groter dink, verder droom en die moed het om te bou – vir hulle kinders en vir die geslagte wat kom.
“Hierdie kampus is die vrug van ’n vennootskap tussen kultuur en kapitaal, dit wys die weg vorentoe” sê Henk Schalekamp, besturende direkteur van Kanton. “Ons bou nie net ’n kampus nie, ons bou leefruimtes vir Afrikaans – ruimtes waar studente kan floreer, waar gemeenskappe kan saamkom en waar ’n taal sy regmatige plek inneem, dit terwyl ons welvaart vir ons beleggers skep.”
Wanneer dit voltooi is, sal die Pretoria-Oos kampus ’n moderne leeromgewing wees met die jongste fasiliteite – van klaskamers en laboratoriums tot koshuise en kuierplekke. Maar dit word ook ’n kampus waar waardes en verbintenisse sterk staan, waar jongmense nie net akademies toegerus word nie, maar ook gevorm word tot volwassenes wat wysheid omhels.
Soos die massagrondwerke in Pretoria-Oos vorder en die konstruksie volgens beplanning in Januarie 2026 sal volg, sal dit duidelik word dat hierdie projek nie ’n gewone ontwikkeling is nie. Dit is ’n nalatenskap in wording. ’n Gemeenskap wat saam ’n toekoms skep. ’n Kollektiewe getuienis dat selfs die grootste syfers altyd begin by een – een geloof in ’n beter môre.