top of page

'N KULTURELE

DIVIDEND

Gemeenskapsinstellings genereer hulle inkomste deur die bevordering van hul bestaansrede soos byvoorbeeld onderwys en opleiding, burgerregte en welsynsdienste. Gemeenskapsinstellings in die algemeen, maar ook in besonder die instellings in die groter Solidariteit Beweging, is in die meeste gevalle instellings sonder ʼn winsoogmerk. Dit beteken dat inkomste en surplusse geoormerk word vir die uitbou van die instellings se bestaansredes en nie as dividende vir aandeelhouers nie. Dit is noodsaaklik vir gemeenskapsinstellings om surplusse in hulle bestaansredes te belê, aangesien ʼn gemeenskap so sterk is soos haar instellings en die instellings so sterk is soos die gemeenskap.

Deur ʼn vennootskap tussen kapitaal en kultuur te skep, is dit dan nie nodig vir die instellings om hulle surplus in eiendom te belê nie, maar kan dit in die bevordering van hul bestaansredes belê word. Markverwante huurtariewe vir fasiliteite bied ʼn geleentheid tot ʼn stabiele en goeie opbrengs aan beleggers. Die groter impak wat bereik word deur die surplusse in hulle bestaansredes te belê is dan in wese ook ʼn kulturele dividend vir die beleggers. 

Beleggers in Kanton verdien dus ʼn goeie opbrengs op hulle belegging terwyl die instellings juis daardeur in staat gestel word om ʼn groter impak tot voordeel van die gemeenskap te maak. Beleggers is dus nie alleen begunstigdes nie, maar ook medewerkers in die uitbou en onderhoud van die Afrikaanse gemeenskap.

Kanton bemagtig hierdie instellings in die gemeenskap deur oplossings vir eiendomskwessies te voorsien. Daardeur word volhoubare leefruimtes vir Afrikaans geskep met ʼn betekenisvolle opbrengs in beide kultuur en kapitaal. 

Kanton se klinkreël “Leefruimtes vir Afrikaans” som die vennootskap tussen kultuur en kapitaal mooi op.
bottom of page