Ontdek die Akademia-kampus.
Verken die aanlyntoer hier.
Nuus-artikels

Waarom kampusse steeds saak maak

As 'n student vandag 'n volledige graad aanlyn kan voltooi, waarom bou Akademia dan 'n residensiële kampus?

Dit is 'n vraag wat al hoe meer gevra word namate tegnologie nuwe moontlikhede vir hoër onderwys skep. Lesings kan regstreeks gestroom word, studiemateriaal is digitaal beskikbaar en studente kan selfs aan groepbesprekings deelneem sonder om ooit 'n lesinglokaal binne te stap.

Waarom belê Akademia dan doelbewus in 'n fisiese kampus?

Volgens Marthinus Visser, uitvoerende hoof van Akademia, begin die antwoord by die doel van 'n universiteit.

"Die waarde van 'n universiteit word uiteindelik nie net gemeet aan die kwalifikasies waarmee studente uitstap nie, maar aan die mense wat hulle teen daardie tyd geword het. Ons wil jongmense toerus om met kennis, verantwoordelikheid en oortuiging hul plek in die samelewing vol te staan. Dít is die groter doel van universiteitsopleiding."

Die universiteit is meer as 'n kurrikulum

'n Universiteit bestaan natuurlik uit lesings, handboeke, laboratoriums en eksamens. Dit is die formele deel van die leerervaring.

Maar daar is ook 'n tweede dimensie wat nie op 'n rooster verskyn nie.

Dit is die gesprek wat ná 'n lesing voortduur. Die groepopdrag wat studente leer om saam probleme op te los. Die dosent wat tyd maak vir 'n student wat onseker is oor die toekoms. Die studentevereniging waar iemand vir die eerste keer verantwoordelikheid aanvaar. Die vriendskappe en mentorskap wat dikwels lank ná graduering voortduur.

Dit is juis hierdie ervarings wat help om die universiteit meer as 'n plek van kennisoordrag te maak.

Waarom plek steeds saak maak

Hierdie uitgangspunt beïnvloed ook hoe 'n kampus ontwerp word.

Soos argitek Jeremie Malan in 'n vorige Kanton-artikel verduidelik het, word die ruimtes tussen die geboue met net soveel sorg beplan as die geboue self. Pleine, binnehowe, wandelroetes, sportvelde en ontmoetingsplekke is nie bloot praktiese geriewe nie. Hulle skep geleenthede waar studente mekaar op 'n natuurlike manier kan ontmoet en idees kan uitruil.

'n Kampus skep nie verhoudings of mentorskap nie. Mense doen dit. Maar 'n goed ontwerpte kampus skep die ruimte waarbinne hierdie dinge makliker gebeur.

Wat sê die navorsing?

Hierdie gedagte word ook deur internasionale navorsing ondersteun.

Die National Survey of Student Engagement (NSSE), wat deur die Amerikaanse hoëronderwysnavorser George Kuh ontwikkel is, het oor meer as twee dekades bevind dat studente se betrokkenheid by die akademiese én sosiale lewe van hul universiteit sterk verband hou met beter leeruitkomste, groter volharding in hul studies en 'n sterker gevoel van verbondenheid met hul instelling.

Die navorsing bevestig iets wat universiteite lank reeds ervaar: wat buite die lesinglokaal gebeur, is dikwels net so belangrik as wat binne die lesinglokaal gebeur.

'n Kampus wat vir dekades beplan word

Vir Akademia is die nuwe kampus daarom veel meer as 'n infrastruktuurprojek.

Elke gebou, wandelroete, plein en sportfasiliteit word met die oog op toekomstige geslagte beplan. Die doel is om 'n omgewing te skep waar akademiese uitnemendheid ondersteun word deur 'n kampuslewe wat studente aanmoedig om verantwoordelikheid te aanvaar, nuwe perspektiewe te ontdek en betekenisvolle verhoudings te bou.

Visser sê dit is juis hierdie langtermynvisie wat die ontwikkeling rig.

"Ons bou nie net lesingsale nie. Ons skep 'n omgewing waar studente oor jare heen kan leer, ontdek en groei. Die gesprekke, mentorskap en samewerking wat op 'n kampus ontstaan, is dikwels net so vormend as die lesings self."

Wanneer die eerste studente eendag hul plek op die Akademia-kampus inneem, sal hulle waarskynlik nie veel aandag skenk aan waarom 'n plein op 'n bepaalde plek ontwerp is of waarom 'n wandelroete juis dáár loop nie. Met verloop van tyd sal daardie ruimtes egter die agtergrond word vir gesprekke, vriendskappe, mentorskap en herinneringe wat 'n leeftyd kan bybly.

Dit is uiteindelik waarom Akademia in 'n residensiële kampus belê. Nie omdat kennis nie ook digitaal gedeel kan word nie, maar omdat 'n universiteit nog altyd oor meer gegaan het as die oordra van kennis alleen.

Deel hierdie:

+27 (0)12 111 0107
navrae@kanton.co.za

1 Klarinet Straat, Hillside Offices, Lynnwood, Pretoria, 0081

Kanton Beleggings (Pty) Ltd

Mobile Button BackgroundContact Button Animation