Waar geloof begrond word: Kanton se sooispit vier die begin van die boufase van die Akademia-kampus
Met die lig van die eerste graaf grond breek ’n ontwikkelingsprojek deur soos ’n saadjie wat ontkiem. Die graaf sny deur vars grond – ’n eenvoudige handeling wat iets dieps simboliseer: die oomblik waar harde werk en vertroue deur die grond beur. Op Mooiplaats, oos van Pretoria, breek die groen blare deur van ’n projek wat 6 jaar lank gekoesteris en wortel geskiet het in vaste grond.
Soos talle geskiedkundige projekte, dra ’n sooispit die betekenis van ’n viering wat kom. Dit is die oomblik waartydens dit waarvoor daar gewerk en waarop daar gehoop is die eerste keer sigbaar word. Dit is ’n bevestiging dat daar iets van blywende waarde begin verrys.
Op Vrydag 28 November 2025 vier Akademia en Kanton saam met die gemeenskap hierdie historiese oomblik – die aanvang van die konstruksiefase van die Akademia-kampusprojek in Pretoria-Oos. Die sooispit staan as die amptelike bevestiging dat die planne nou lewe kry; dat ’n droom, lank gekoester ’n werklikheid geword het.
’n Tuiste vir kennis en kultuur
Die Akademia-kampus is meer as ’n bouprojek. Dit is ’n toekomsvisie vir Afrikaanse hoër onderwys – ’n plek waar jong mense se denke en hart gevorm gaan word, waar kennis en vorming hulle gaan voorberei op ’n vrye toekoms.
Die kampus sal uiteindelik sowat 5 000 voorgraadse en 1 500 nagraadse studente huisves in ’n ruimte van moderne lesingsale, laboratoria, navorsingsfasiliteite, ’n goed toegeruste biblioteek, agt koshuise en ’n 2 000-sitplek ouditorium. Daar word ook ’n klassieke kapel, eetplekke, ’n sentrale studentesentrum en omvattende sportgeriewe beplan – selfs ’n proefplaas wat Akademia se natuurwetenskap- en landbouaanbod sal versterk.
Onder die grond groei ’n infrastruktuur van merkwaardige omvang: 23 km pyplyne, 19,3 miljoen liter waterberging en 40 km optiese vesel. Met 7,1 miljoen bakstene wat uiteindelik gebruik gaan word, is hierdie ontwikkeling een van die grootste privaat onderwysprojekte nog in Suid-Afrika – ’n belegging van meer as R3 miljard.
Meer as bakstene: die krag van samewerking
Vir Kanton is hierdie sooispit nie net ’n viering van die konstruksie nie, maar ’n viering van gemeenskap. Soos die versamelvoël nes bou – tak vir tak, stukkie vir stukkie, met geduld en doel – word hierdie kampus gebou deur die hande van baie.
Die versamelvoël is vir Kanton ’n simbool van visie en volharding. Sy nes is nie die werk van ’n individu nie, maar van ’n gemeenskap van voëls wat saamwerk om iets groter as hulself te skep. Elke tak, elke stukkie gras, dra by tot die geheel. Só ook bou Kanton aan leefruimtes vir Afrikaans: plekke waar kultuur en kapitaal hande vat om gemeenskappe te laat groei – veilig, selfstandig en vry.
Die Akademia-kampus is dus meer as ’n fisiese ontwikkeling. Dit is ’n lewende monument van vennootskap: tussen kultuur en kapitaal, tussen generasies, tussen droom en daad. Elke graaf grond, elke steen wat gelê word, en elke bydrae – groot of klein – word deel van hierdie groter verhaal.
Kom beleef die begin saam
Hierdie sooispit is ’n uitnodiging – nie net vir studente en beleggers nie, maar vir die hele gemeenskap. Kanton en Akademia nooi almal wat glo in die waarde van Afrikaanse hoër onderwys uit om saam hierdie historiese oomblik te vier.
Gaste sal die geleentheid hê om die terrein te besoek en met behulp van ’n interaktiewe kaart ’n virtuele toer te beleef – om met eie oë te sien hoe die kampus reeds vorm begin aanneem, en hoe die landskap binnekort gaan verander.
Datum: Vrydag 28 November 2025
Plek: Mooiplaats-terrein, Pretoria-Oos (klik hier vir die plekspeld)
Tyd: 12:00-15:00
RSVP: voor Vrydag 21 November 2025 by https://akademia.ac.za/sooispit-uitnodiging/
Kom vier saam die begin van ’n nuwe hoofstuk – ’n dag waar visie en grond mekaar vind.
Want saam bou ons nie net ’n kampus nie – saam bou ons aan ’n erfenis wat hoop bring vir geslagte wat kom.