Ontdek die Akademia-kampus.
Verken die aanlyntoer hier.
Nuus-artikels

Toekomsbouers: Mense wat vandag plant vir môre

Die meeste mense praat oor die toekoms. ’n Minderheid bou dit. By Kanton begin daardie bouwerk nie by abstrakte idees nie, maar by die doelbewuste skep van leefruimtes vir Afrikaans waar kultuur en kapitaal in vennootskap mekaar ondersteun en elkeen se doelwitte bevorder. By Kanton kry die begrip toekomsbouer sy betekenis: mense wat nie wag vir die regte oomblik nie, maar self die oomblik skep deur te begin om die fondamente te lê vir wat gebou moet word vir die volgende geslag.

In onseker tye is dit hierdie bou ingesteldheid wat eers die nodige hoop op ’n  toekoms skep en daarna self die seker toekoms word.  Wanneer dit in geloof gedoen word, bou Toekomsbouers as medewerkers van God aan ’n hoopvolle mooi toekoms.

’n Toekomsbouer werk met ’n ander tydshorison. Die fokus val nie op vinnige resultate nie, maar op dit wat oor jare groei en vrugte dra. Daarom strek die werk verder as projekte alleen. Dit sluit die vestiging van instellings, die bou van gemeenskappe en die skep van ruimtes in waarin taal, identiteit en samewerking kan ontwikkel en bly voortbestaan. In hierdie werk word die toekoms nie net beplan nie, maar gevestig.

’n Toekomsbouer kies nie die maklike pad van kritiek nie. Hulle kies om te bou. Waar ander tekortkominge sien, sien hulle moontlikhede. Waar ander wag, begin hulle. Dit vra dapperheid, dissipline en verantwoordelike aksie wat die energie rig en die nodige verandering tot gevolg bring.

Kanton se toekomsbouers

By Kanton kry hierdie ingesteldheid konkrete vorm in mense wat oor jare heen doelbewus gebou het, nie net aan projekte nie, maar aan instellings.

Henk Schalekamp, Besturende Direkteur van Kanton, bring ’n unieke kombinasie van entrepreneurskap, strategiese denke en institusionele bouwerk na die tafel. Met ’n agtergrond in Bedryfsielkunde, ’n MBA, en ervaring wat strek van die vakbondwese tot uitvoerende sowel as nie-uitvoerende rolle in ’n verskeidenheid van instellings en maatskappye, het hy oor dekades heen ’n breë perspektief ontwikkel oor die voorwaardes waaraan instellings moet voldoen om uitnemend te wees en volhoubaar te groei.

Sy rol in die vestiging en uitbreiding van die Solidariteit Beweging, waar hy as medestigter by verskeie instellings en ondernemings betrokke was, getuig van ’n langtermynbenadering tot bouwerk. Vandag, as hoof van Kanton, fokus hy op beleggingsentrepreneurskap in eiendom, met ’n spesifieke fokus op die skep van ruimtes wat volhoubaar gemeenskap en kultuur opbou. Sy werk word gekenmerk deur die oortuiging dat die Afrikaanse gemeenskap se kulturele instellings deur ’n wederkerig voordelige vennootskap met kapitaal gesamentlik aan die voorwaardes vir ’n mooi toekoms kan voldoen.

Francois van Vuuren werk op die snypunt van die ontwerp en ontwikkeling van leefruimtes waardeur instellings sinvol en kreatief kan uiting gee aan hulle bestaansdoele. As Direkteur van Eiendomme, is hy verantwoordelik vir die aflewering van fasiliteite wat nie net tegnies suksesvol is nie, maar ook die gebruiker daarvan ondersteun.

Sy besondere belangstelling in die voorboufase en ontwerpfasilitering, veral binne universiteits- en kollegeprojekte, wys op ’n ingesteldheid wat die fondament reg wil lê voordat daar gebou word. Sy leuse, om die status quo met respek te bevraagteken, spreek van ’n ingesteldheid wat nie tevrede is met bestaande oplossings nie, maar voortdurend op soek is na beter ontwerpe. In hierdie benadering lê die kern van innoverende vernuwing.

Tjaart van der Westhuizen se betrokkenheid strek oor ’n wye spektrum van instellings en beleggingsstrukture. As Direkteur by Kanton Beleggings en nie-uitvoerende direkteur by verskeie ander instellings, speel hy ’n sleutelrol in die bestuur en strategiese ontplooiing van kapitaal en strukture wat oor tyd moet presteer.

Sy fokus is  op volhoubare finansiële- en batebestuur deur die ontsluiting van konstante langtermyn waarde. Hierdie belangrike werk is dikwels minder sigbaar, maar noodsaaklik om seker te maak dat die beleggingsportefeulje blywend presteer.

Wat hierdie drie leiers verbind, is hul lewensbeskoulike uitgangspunte en die gedeelde oortuiging dat die toekoms nie toevallig vorm aanneem nie. Dit word gebou deur begeesterde mense wat bereid is om self die troffel op te tel en te bou.

’n Uitnodiging om self te bou

Die Toekomsbouer-veldtog is nie ’n idee wat op ’n bladsy bly nie. Dit is ’n praktiese uitnodiging om self deel te word van die bouwerk.

Op die Toekomsbouer-webblad word hierdie uitnodiging konkreet gemaak: om nie net te fokus op wat ontbreek nie, maar om doelbewus te begin bou aan dit wat nodig is. Dit gaan oor betrokkenheid in die regte strukture en oor ’n langtermynvisie wat verder strek as onmiddellike resultate.

Om ’n toekomsbouer te wees, beteken nie dat jy alles moet oplos nie. Dit beteken dat jy begin. Dat jy kies om te plant, te bou en te vestig, al moet jy wag vir die opbrengs wat jou dalk nie eens beskore is nie.

Die toekoms lê nie êrens daar voor vir ons en wag nie. Dit word elke dag gevorm deur mense wat kies om die verantwoordelikheid vir vandag te neem.

Word ’n toekomsbouer. Besoek die webblad. Begin bou.

Deel hierdie:

+27 (0)12 111 0107
navrae@kanton.co.za

1 Klarinet Straat, Hillside Offices, Lynnwood, Pretoria, 0081

Kanton Beleggings (Pty) Ltd

Mobile Button BackgroundContact Button Animation