Só kan jy die Verbond tussen geslagte in stand hou

Bou vandag aan ‘n volhoubare Afrikaanse toekoms
Die toekoms van enige gemeenskap hang af van die instellings wat dit bou en die ruimtes waarin dit kan floreer. Dit sluit in leefruimtes waar studente kan leer, waar nuwe idees ontwikkel word, waar jong mense hul plek in die wêreld kan vind – dít vorm die teelaarde vir blywende vooruitgang.
Kanton is tans besig met een van die mees betekenisvolle ontwikkelings in ons geskiedenis: die vestiging van ‘n nuwe Akademia-kampus in die ooste van Pretoria. Hierdie ontwikkeling vorm die hart van die Toekomsbouer-veldtog – ‘n gesamentlike poging om ‘n volhoubare ruimte te skep vir Afrikaanse hoër onderwys.
Die sukses van hierdie projek is nie net afhanklik van goeie beplanning en professionele uitsette nie, maar van die betrokkenheid en eienaarskap van die breër gemeenskap. Dié veldtog is ‘n uitnodiging aan elkeen wat besef hoe belangrik dit is om te belê in volhoubare instellings – of dit nou deur finansiële skenkings, toekomstige beleggings of ondersteuning op ander wyses is.
Die verbond tussen geslagte
Flip Buys stel dit duidelik: “’n Beskawing, volk of ’n kultuur kan net voortbestaan as die verbond tussen geslagte doelgerig in stand gehou word. Elke geslag moet dit wat van die vorige geslagte ontvang is bewaar en dan in ’n beter toestand aan die volgende geslag oordra.”
Dié gedagte vorm die grondslag van Kanton se benadering tot ontwikkeling. Ons skep nie net infrastruktuur nie – ons bou aan die institusionele en kulturele ankers wat die Afrikaanse gemeenskap nodig het om te groei.
Die nuwe Akademia-kampus is ’n langtermynbelegging in Afrikaanse kennis, karaktervorming en gemeenskapsbou.
Die Akademia-kampusontwikkeling - ‘n oorsig
Die beoogde kampus is ontwerp om aan wêreldklas-standaarde te voldoen. Dit sluit in:
1. Kapasiteit vir 5 000 voltydse voorgraadse studente
2. Plek vir 1 500 nagraadse studente
3. Vier dames- en vier manskoshuise, met plek vir altesaam 1 500 studente
4. ‘n Volledige akademiese en kultuurruimte wat leer en leef kombineer
Die totale ontwikkelingskoste beloop meer as R3 miljard. Hierdie projek sal in fases gerealiseer word, met die ondersteuning van vennote, skenkers en toekomstige beleggers.
Maniere waarop jy betrokke kan raak
Die Toekomsbouer-veldtog maak dit moontlik vir die publiek om prakties by die projek betrokke te raak. Skenking is een van die eerste maniere waarop mense nou reeds ‘n verskil kan maak:
Eenmalige skenkings
Hierdie skenkings help met onmiddellike en dringende behoeftes, soos infrastruktuurontwikkeling en voorbereiding vir boufases.
Maandelikse bydraes
Maandelikse skenkings ondersteun die volhoubaarheid van die projek. Dit maak voorsiening vir ‘n konstante stroom hulpbronne, wat beplanning en voortgang vergemaklik.
Testamentêre skenkings
Die insluiting van ‘n legaat in ‘n testament bied die geleentheid om ‘n nalatenskap te laat wat toekomstige geslagte direk bevoordeel.
Gemerkte skenkings
Individue of instansies kan hul skenkings aan spesifieke dele van die projek koppel – van geboue tot infrastruktuur. Dit gee die versekering dat die bydrae presies volgens die skenker se bedoeling aangewend word.
Ongespesifiseerde skenkings
Hierdie skenkings word gebruik waar die behoefte die grootste is, en help om algemene ontwikkelingskoste te dek.
Alle skenkings aan die Akademia-skenkingsfonds kwalifiseer vir ‘n artikel 18A-belastingsertifikaat.
Verdere betrokkenheid en beleggingsgeleenthede
Kanton werf tans beleggings van meer as R1 miljoen per belegger en ondersoek tans strukture vir kleiner beleggingsmoontlikhede deur die gemeenskap. Laasgenoemde opsie, wat binnekort aangekondig sal word, bied die geleentheid om ook op ‘n finansiële vlak deel te vorm van ‘n volhoubare projek wat opbrengs vir die gemeenskap én die belegger kan lewer.
Saam bou ons ‘n toekoms vir ons kinders en hulle kinders
Kanton se fokus is duidelik: ons ontwikkel leefruimtes waar Afrikaanse instellings kan floreer. Dié ontwikkeling is nie net ‘n bouprojek nie – dit is ‘n strategiese belegging in die langtermynvolhoubaarheid van ons kultuur en taal.
Ons nooi elkeen wat omgee oor die toekoms van Afrikaanse hoër onderwys uit om deel te word van hierdie proses – deur finansiële bydraes, deur die nuus te help versprei, en binnekort ook deur beleggings.
Besoek www.toekomsbouer.co.za vir meer inligting of om jou skenking te maak.
Laat weet as jy belangstel om by ander aspekte van die projek betrokke te raak – saam bou ons verder.