Die kuns om 'n groot projek op koers te hou

"Dis soos om 'n klein stad in een slag te ontwerp en te bou."
Só beskryf Francois van Vuuren, Direkteur: Eiendomme by Kanton, die ontwikkeling van Akademia se nuwe residensiële kampus.
Wanneer 'n mens oor die terrein uitkyk, is dit maklik om jou aandag op die geboue te vestig. Maar agter die skerms lê 'n wêreld wat min mense ooit sal sien: nege damme, ses pompstasies, sewe pyplyne en 'n rioolsuiweringsaanleg wat saam die kampus se water-, stormwater- en rioolstelsels bestuur. Daar is ook 'n uitgebreide data-infrastruktuur en 'n slim energiestelsel wat outomaties tussen munisipale krag, sonkrag, batterye en kragopwekkers wissel om die doeltreffendste energiebron te gebruik.
Bo die grond verrys vier verskillende nodusse: 'n akademiese kern, 'n koshuisdorp, 'n sportgebied en 'n proefplaas waar toekomstige landbounavorsing gaan plaasvind.
"Elke deel moet met die volgende een kan saamwerk," sê Francois.
En dit is juis waar die kuns van projekbestuur begin.
'n Borrel wat beskerm moet word
Francois gebruik 'n eenvoudige beeld om sy werk te verduidelik.
"Jy kan 'n projek met 'n borrel vergelyk."
Volgens hom begin alles deur daardie borrel reg te definieer. Die omvang van die projek moet duidelik wees. Die kliënt se behoeftes moet reg verstaan word. Begrotings, tydlyne, tegnologie en ruimtes moet realisties beplan word.
"As jy die borrel verkeerd definieer, ontstaan daar onrealistiese verwagtinge. Dan begin die werklikheid druk op die wande van daardie borrel plaas... en uiteindelik bars hy."
Wanneer die projek eers goed beplan is, verander sy rol.
"Dan raak dit my taak om die borrel te beskerm."
Sommige bedreigings kom van binne. Veranderinge aan die projek, verkeerde aannames of swak kommunikasie kan die hele ontwikkeling onder druk plaas. Ander kom van buite: ekonomiese omstandighede, rentekoerse en onvoorsiene uitdagings.
"Jy kan nie alles beheer nie, maar jy kan sorg dat die span voorbereid is om daarop te reageer."
Hoewel Francois verantwoordelik is om die groter prentjie bymekaar te hou, beskryf hy homself nie as die klassieke projekbestuurder nie.
"Daardie ouens het 'n ander vlak van dissipline en 'n baie sterk ratkas," lag hy. "Ek hou daarvan om die groter oorsig te hê en die regte mense by die regte take te betrek."
Meer as planne en programme
'n Projek van hierdie omvang word nie deur een persoon bestuur nie.
Francois skakel daagliks met sowat 22 professionele konsultante, van argitekte en ingenieurs tot stadsbeplanners, omgewingskundiges en ander spesialiste. Agter hulle staan weer tientalle mense wat elkeen verantwoordelik is vir hul eie deel van die groter geheel. Op die terrein bestuur die hoofkontrakteur die konstruksieprogram saam met reeds 21 subkontrakteurs.
"Die uitdaging is nie om alles self te doen nie," verduidelik Francois. "Dit is om seker te maak almal werk vanuit dieselfde prentjie."
Daardie samewerking gebeur natuurlik nie vanself nie. Francois gee vinnig erkenning aan Kanton se Alida du Preez, wat sy vergaderings help koördineer.
"Sonder haar sou ons nie 'n kwart van die werk gedoen kon kry wat ons tans doen nie," sê hy.
Dan voeg hy met 'n glimlag by: "Ek het wel gelet dat ek ewe skielik baie harder werk en minder op kantoor is wanneer ek vir Alida irriteer..."
Wanneer gehalte en vakmanskap mekaar ontmoet
Een van die interessantste onderskeide wat Francois tref, is dié tussen gehalte en vakmanskap.
"Gehalte word tydens die ontwerpstadium bepaal," verduidelik hy. "Dit is waar materiaal, afwerkings en spesifikasies gekies word."
"Vakmanskap gebeur op die terrein."
Met ander woorde: jy kan die beste ontwerp en die beste produkte kies, maar dit is die manier waarop dit geïnstalleer en afgewerk word wat uiteindelik bepaal hoe die eindresultaat gaan lyk en funksioneer.
Daarom begin foutelyste reeds vroeg in die konstruksieproses.
"Maak eers seker die hoofpyplyne is reg," sê hy. "Dis nie iets wat jy later weer wil oopgrawe nie. 'n Kraan wat skeef geïnstalleer is, kan jy nog regstel."
Probleme is deel van die werk
Geen groot projek verloop presies volgens plan nie.
"Enigiemand wat beweer alles loop altyd volgens plan, is nie eerlik met homself nie."
Een van die grootste verrassings op die Akademia-projek het tydens die grondwerke gekom. Hoewel uitgebreide geotegniese ondersoeke vooraf gedoen is, het die werklike grondtoestande telkens nuwe uitdagings gebied. Die grondmodel moes vyf keer aangepas word en die omvang van die grondwerke het met byna 30% toegeneem.
Tog het die projek binne begroting en op tyd gebly.
"Dit was net moontlik omdat almal bereid was om saam oplossings te vind," sê Francois.
Frustrasie alleen bring immers geen oplossing nie.
"Kom ons los die middelste deel waar almal baklei en stap sommer net dadelik na die plan van aksie asseblief. Ons het 'n probleem om op te los."
Hy lag wanneer hy vertel dat daar gelukkig baie kundige mense op die projek is om oplossings te vind.
"Hulle sê mos, as jy die probleem nie met 'n hamer kan reg slaan nie, dan is dit definitief 'n elektriese probleem."
Maar nie elke uitdaging draai om beton en staal nie.
Een van die minder sigbare verantwoordelikhede was om die projek teen ontwrigting deur georganiseerde konstruksiemafia-groepe te beskerm. Hiervoor is 'n veelvlakkige strategie ontwikkel wat onder meer 'n hofbevel, noue samewerking met die SAPD, 'n deursigtige arbeidsplatform vir plaaslike werksoekers en intelligensiegedrewe sekuriteit ingesluit het.
"Jy besef baie vinnig projekbestuur gaan oor baie meer as bouwerk."
Die belangrikste boumateriaal is mense
Hoewel sy dae gevul is met begrotings, tydlyne, tegniese detail en vergaderings, sê Francois een van die grootste lesse van sy loopbaan het min met konstruksie te doen.
"Ek was my hele lewe lank baie taakgerig."
"Maar soos mens ontwikkel, besef jy die menslike faktor is eintlik die belangrikste deel."
Hy glo sy rol is nie net om projekte suksesvol af te handel nie, maar ook om mense te help om hul volle potensiaal te bereik.
"Kanton pak betekenisvolle projekte aan," sê hy. "Die span koop in omdat hulle glo die projek is groter as hulleself."
Hy dink 'n oomblik.
"Die saak is so groot dat dit dien as hoofmotiveerder."
Meer as 'n kampus
Vreemd genoeg sê Francois hy het nog nie die oomblik beleef waar hy gedink het: "Nou lyk dit soos 'n universiteitskampus" nie.
"By Sol-Tech het dit eers gebeur toe die studente daar begin rondloop," vertel hy. "Die studente gaan die siel en gees bring en lewe daarin blaas."
Daar is wel een plek waar hy telkens vir 'n oomblik stilstaan.
"Ek stop altyd bo by die atletiekveld."
Hy vertel hoe enorme hoeveelhede grond verskuif moes word om daardie platform te skep. Vandag lyk dit dalk nog soos 'n bouperseel, maar in sy gedagtes sien hy reeds iets anders.
"Daardie graswal gaan eendag plek hê vir sowat 9 000 mense tydens sportbyeenkomste," sê hy. "Ek dink dit gaan asemrowend wees om daar uit te kyk wanneer alles voltooi is."
Vir Francois is dit uiteindelik waaroor die projek gaan. Nie net om geboue op te rig nie, maar om 'n plek te skep waar jongmense gaan leer, groei, vriendskappe vorm en hul toekoms begin bou.
Vir iemand wat sy dae tussen honderde bewegende dele deurbring, is sy maatstaf vir sukses verrassend eenvoudig.
"Wanneer ek saans by die hek uitry," glimlag hy, "en saam met die Here oor die dag kan glimlag."
