Die Kanton-verhaal: Net genoeg vir die volgende tree

“As die Here die huis nie bou nie, tevergeefs werk dié wat daaraan bou.”
Dit is maklik om Psalm 127 aan te haal wanneer die geboue reeds staan, die beton gegiet is en die finansiering goedgekeur is. Wanneer ’n plan wat eens net op papier bestaan het, begin lyk soos die prentjie wat jare tevore in ’n raadsaal gewys is.
Dit is moeiliker wanneer jy nog voor ’n stuk plaasgrond staan en die kampus net in jou verbeelding bestaan.
Die verhaal van Kanton is tot dusver ’n verhaal van sulke oomblikke. Oomblikke waar die roeping duideliker was as die pad vorentoe, waar die plan groter was as die balansstaat en waar daar nie genoeg was om die hele pad te stap nie.
Maar telkens was daar genoeg vir die volgende tree.
’n Plan groter as die vermoë
Kanton se verhaal begin lank voor Kanton in 2019 tot stand gekom het.
Reeds toe Flip Buys in 1997 by die Mynwerkersunie aangestel is, het hy ’n groter instellingstrategie in gedagte gehad: ’n gemeenskap wat verantwoordelikheid vir sy eie toekoms neem deur die instellings te bou wat daarvoor nodig is.
In die twee dekades daarna het dié gedagte sigbaar geword in Solidariteit, AfriForum, Helpende Hand, Sol-Tech, Akademia en ander instellings. Die gemeenskap het gewys wat moontlik is wanneer baie mense elkeen iets bydra. Henk Schalekamp praat van “Dawid se klippies”: klein bydraes wat saam groot dinge moontlik maak.
Maar teen 2017 was daar ’n probleem wat al moeiliker geword het om te ignoreer: tyd. Die ideale was daar, die planne was daar en die vermoë om mense rondom dié planne te mobiliseer, was daar. Groot kampusse en leefruimtes verg egter groot kapitaal. As ’n gemeenskap twintig jaar moet spaar vir iets wat binne vyf jaar nodig is, kan die tyd waarin jy wag uiteindelik net so groot ’n beperking soos geld word.
Flip het ’n vraag aan Henk gestel: Hoe gee ons vinniger uitvoering aan ons ideale?
Die antwoord wat begin vorm aanneem het, was ’n vennootskap tussen kultuur en kapitaal. Nie liefdadigheid nie, en ook nie kapitaal wat gevra word om swak sakebesluite ter wille van ’n goeie saak te verdra nie. Die gedagte was belegging: kapitaal wat ’n finansiële opbrengs kan verdien, maar terselfdertyd gebruik word om die leefruimtes te skep waarin ’n gemeenskap se instellings kan floreer.
Daaruit is Kanton gebore.
Die idee het op papier sin gemaak. Nou moes Kanton bewys dat dit in die praktyk kon werk.
Die eerste toets: Sol-Tech
Sol-Tech was Kanton se eerste groot toets. Hier moes die jong onderneming bewys dat hy ’n kampus kon ontwikkel en dat die vennootskap tussen kultuur en kapitaal waarop Kanton gebou is, meer as ’n goeie idee was.
Solidariteit het sy bestaande eiendomsportefeulje vir die plan beskikbaar gestel. Solidariteit, AfriForum en Akademia het ingestem om markverwante huur te betaal, die eiendomme kon herfinansier word en R80 miljoen se kapitaal is ontsluit. Kanton kon met ’n balansstaat van ongeveer R125 miljoen wegspring en die R80 miljoen as eie bydrae vir die Sol-Tech-kampus gebruik.
Teen die tyd dat bouwerk kon begin, was daar reeds agt jaar lank gewerk om die nodige regte op die grond te bekom. Die R80 miljoen was boonop nie genoeg om die kampus te voltooi nie. Ontwikkelingsfinansiering was nodig, en die bank se kredietkomitee het meer as een keer nee gesê.
Kanton het teruggegaan, vrae beantwoord, risiko’s verminder en weer probeer. Instellings van die Solidariteit Beweging het intussen saam gewaag en beskikbaar gestel wat hulle kon om die projek aan die gang te hou.
Teen einde Oktober 2020 was meer as 70% van die kampus se koste reeds bestee en Sol-Tech het gereedgemaak om in Desember te trek. Kanton het egter steeds nie die ontwikkelingsfinansiering gehad waarmee die kampus veronderstel was om gebou te word nie.
Die kampus was byna klaar voordat die finansiering om dit te bou goedgekeur is.
In Desember het die kredietkomitee uiteindelik ja gesê. Kanton kon die instellings wat saam gewaag het, terugbetaal en die eerste groot toets van die model was geslaag.
Kanton het bewys: Ons kan bou.
Daarna moes Kanton ook bewys dat hy kon besit en bestuur: huur invorder, geboue onderhou, regulatoriese verpligtinge nakom en dit alles winsgewend doen. Winste is teruggehou en weer in die onderneming belê.
Sol-Tech was die proeflopie, maar dit was ook waar ’n beginsel wat later deel van Kanton se pad sou word, vir die eerste keer sigbaar geword het. Kanton het nie aan die begin alles gehad wat nodig was om die projek klaar te maak nie. Daar was genoeg om te begin, daarna genoeg om verder te gaan, en uiteindelik het die finansiering gekom wat nodig was om die projek suksesvol af te handel.
Daar was genoeg vir die volgende tree.
’n Stuk plaasgrond en ’n groter droom
Terwyl Kanton homself met Sol-Tech bewys het, was daar reeds ’n veel groter plan in wording.
Op 1 Augustus 2019, dieselfde jaar waarin Kanton tot stand gekom het, het die onderneming ’n koopooreenkoms vir 220 hektaar plaasgrond in die ooste van Pretoria onderteken. Die verkopers wou R55 miljoen hê. Kanton was bereid om die prys te betaal, mits daar tyd gegun word om eers die regte en goedkeurings te bekom wat nodig sou wees om ’n kampus daar te ontwikkel.
Dit was ’n buitengewone waagstuk vir ’n jong onderneming met ’n balansstaat van ongeveer R125 miljoen. Die Sol-Tech-kampus was nog nie klaar gebou nie. Akademia het ongeveer 700 afstandstudente gehad en sy voltydse kampusmodel het nog nie eens geopen nie. Niemand het geweet dat Covid enkele maande later die wêreld sou verander nie.
En Kanton het beslis nie die miljarde gehad wat nodig sou wees om die kampus te bou wat vandag op daardie grond verrys nie.
Maar die hele kampus hoef nie in 2019 gebou te word nie. Die verantwoordelikheid op daardie oomblik was om die grond te verseker en die lang proses te begin om dit ontwikkelbaar te maak.
Dit kon Kanton doen.
Vir die volgende byna vyf jaar het daar min op die grond gebeur wat indrukwekkend op ’n konstruksievideo sou lyk. Daar was sonering, omgewingsgoedkeurings, water, paaie, dienste, regte, ontwerpe en studies. Jare se werk wat meestal op papier bestaan het, maar waarsonder niks wat vandag op die terrein gebeur moontlik sou wees nie.
In Mei 2024 kon Kanton uiteindelik die verkopers R55 miljoen kontant betaal.
Die grond was Kanton s’n.
Intussen het Akademia gegroei
Terwyl Kanton die grond gereed gemaak het vir ’n toekoms wat nog nie volledig sigbaar was nie, het Akademia se behoefte aan daardie toekoms al duideliker geword.
Akademia het in 2012 met 40 studente begin. Die ideaal was van die begin af groter as afstandsonderrig. Daar moes uiteindelik ’n volwaardige universiteitsgemeenskap wees: ’n plek waar jongmense in Afrikaans kan studeer, maar ook gevorm word; waar denke én hart gevorm word.
Toe kom Covid. Universiteitskampusse het leeggeloop en studente is huis toe gestuur. Juis in dié tyd het Akademia besluit om sy voltydse kampusmodel in Centurion te open.
In 2021 het die eerste studente ingestap. Daar was klasse deur die dag, ’n studentelewe het ontwikkel en koshuisverblyf het gevolg. Nuwe programme en fakulteite is ontwikkel en die universiteit het aanhou groei.
Vandag het Akademia ongeveer 4 500 studente, waarvan byna 1 500 voltyds op kampusse in Centurion studeer en meer as 500 reeds in vier koshuise woon.
Die plaasgrond waarvoor Kanton in 2019 gewaag het, was nie meer grond vir ’n moontlike toekomstige behoefte nie. Akademia het die ruimte nodig gehad.
Kanton het intussen met Sol-Tech bewys dat hy kan ontwikkel, besit en bestuur. Akademia het bewys dat daar ’n werklike behoefte aan ’n Afrikaanse universiteitslewe bestaan. Die grond was verkry en die nodige regte was in plek.
Nou moes Kanton se oorspronklike idee op ’n veel groter skaal werk.
En toe was R1,8 miljard nodig
Die eerste fase van die nuwe Akademia-kampus sou ongeveer R1,8 miljard kos.
Kanton het nie R1,8 miljard gehad nie.
Tog het Kanton en Akademia op 1 Augustus 2024 die Toekomsbouer-veldtog afgeskop en die plan aan die gemeenskap gewys. Die finale ontwerp en beplanning het versnel, maar teen middel 2025 was die volle finansiering steeds nie in plek nie.
Daar was wel genoeg om die volgende tree te gee.
Aan die einde van Junie het die massagrondwerke begin. Met elke beskikbare rand is die terrein gereedgemaak en die platforms gebou waarop die akademiese geboue, koshuise en sportfasiliteite moes verrys.
Nou moes die vennootskap tussen kultuur en kapitaal waarvoor Kanton oorspronklik geskep is, bewys dat dit op hierdie skaal kon werk.
En iets merkwaardigs het gebeur.
Waar Kanton met Sol-Tech gesukkel het om een bank se kredietkomitee te oortuig, het vier banke nou meegeding om die Akademia-kampus te finansier. Die gekose bank het Kanton se bestaande portefeulje herfinansier en ’n ontwikkelingsfasiliteit van R890 miljoen, met ’n verdere R50 miljoen BTW-fasiliteit, beskikbaar gestel.
Daar was egter ’n voorwaarde: Kanton moes die eerste R807 miljoen op die kampus bestee voordat die ontwikkelingsfasiliteit beskikbaar sou raak.
Die ander deel van die vennootskap moes dus ook werk: kapitaal uit die gemeenskap.
Die Trust vir Afrikaanse Onderwys het ’n R100 miljoen omskepbare lening beskikbaar gestel. Instellings van die Solidariteit Beweging het belê en beleggers uit die gemeenskap het aandelekapitaal in Kanton begin belê.
Dit was nie skenkings nie. Dit was belegging met die verwagting van ’n finansiële opbrengs én die wete dat dieselfde kapitaal help om leefruimtes te skep en aan ’n kulturele nalatenskap te bou.
Kultuur en kapitaal het vennote geword.
Die volgende tree is steeds voor ons
Vandag is die resultaat sigbaar. Die grondwerke het plek gemaak vir beton en staal, paaie, koshuise, akademiese geboue en sportfasiliteite. Dit wat vir jare net in planne en op papier bestaan het, verrys uit die grond.
Kanton, wat in 2019 met ongeveer R125 miljoen se bates begin het, het teen die einde van die 2026-finansiële jaar die R1 miljard-kerf verbygesteek. Op die huidige trajek sal die onderneming naastenby R3 miljard sterk wees wanneer die kampus voltooi is.
Maar die verhaal is nog nie klaar nie. Teen einde Julie 2026 was ongeveer R470 miljoen reeds op die kampus bestee. Net minder as R70 miljoen moet steeds gevind word om Kanton se eie bydrae vir fase een volledig in plek te kry en die groot ontwikkelingsfasiliteit te ontsluit.
Daar is dus vandag, net soos met Sol-Tech en soos met die koop van die plaasgrond in 2019, steeds ’n volgende tree.
Kanton het reeds 15 hektaar grond vir die beoogde Pretoria Gimnasium en grond in die Paarl vir Akademia se verdere uitbreiding. Namate Kanton se vermoë groei, word die roeping nie kleiner nie. Die verantwoordelikheid word groter.
As die Here die huis nie bou nie
Dr. Anton Rupert het gesê: “Waar daar ’n wil is, word die wil die weg.”
Die verhaal van Kanton getuig daarvan. Jare se beplanning en onderhandeling lê agter dit wat vandag gebou word. Daar was mense wat ná ’n “nee” teruggegaan het, finansiële modelle wat moes werk, risiko’s wat bereken en bestuur is, beleggers wat gewerf is en instellings wat bereid was om saam te waag. Baie van wat tot stand gekom het, het harde en volgehoue werk gevra.
Maar Rupert het ook gesê: “Hy wat nie in wonderwerke glo nie, is nie ’n realis nie.”
Want harde werk alleen verklaar nie die verhaal van Kanton nie. Daar was ook die regte mense wat op die regte tyd na vore gekom het, deure wat oopgegaan het, kapitaal wat beskikbaar geword het en oplossings wat gekom het toe dit nodig was. Mense was bereid om saam te glo voordat die eindresultaat sigbaar was.
En dit bring die verhaal terug by Psalm 127:
“As die Here die huis nie bou nie, tevergeefs werk dié wat daaraan bou.”
Let op wat in die Psalm gebeur: die bouers bou. Hulle werk. Hulle verantwoordelikheid verdwyn nie omdat hulle van die Here afhanklik is nie. Juis daarin lê die geloofsles wat deur Kanton se pad loop.
Om jou roeping te hoor, beteken nie dat jy die uitkoms ken nie. Afhanklikheid beteken ook nie passiwiteit nie. Jy maak die somme, doen die navorsing, verstaan die risiko en werk met uitnemendheid. Jy gebruik verantwoordelik wat aan jou toevertrou is.
En dan gee jy die volgende tree.
Nie omdat jy alles het wat vir die hele reis nodig gaan wees nie, maar omdat jy genoeg ontvang het om vandag gehoorsaam te wees aan die roeping wat voor jou lê.
Wanneer die Akademia-kampus in 2028 oopmaak, sal dit maklik wees om terug te kyk en ’n reguit lyn te probeer trek van Kanton se ontstaan tot by die voltooide kampus. Maar die pad het nie so gevoel terwyl dit gestap is nie.
As ’n mens terugkyk, sien jy eerder hoe die een tree op die ander gevolg het: Solidariteit wat met hulle eiendom gewaag het; die klein balansstaat waarmee Kanton begin het; die R80 miljoen wat ontsluit kon word; Sol-Tech waar die model vir die eerste keer getoets is; die stuk plaasgrond waarvoor gewaag is; die kredietkomitee wat uiteindelik ja gesê het; die ontwikkelingsregte, die grondwerke, die beleggers en later die bankfinansiering.
Niks daarvan was van die begin af tegelyk beskikbaar nie.
Maar telkens was daar genoeg vir die volgende tree.
Miskien is dit waarom die kampus wat vandag uit die grond verrys, uiteindelik van meer getuig as wat Kanton kon bou. Dit getuig van wat moontlik word wanneer mense hulle roeping ernstig genoeg opneem om te werk, maar nederig genoeg bly om te weet van Wie die uitkoms afhanklik is.
Ons moes die tree gee. Ons moes die werk doen.
Maar die uitkoms was nooit net ons s’n nie.
Aan die Here alleen die eer.
