Die eerste boufase van die Akademia-kampus: ’n Beginpunt vir gevormde jongmense en ’n blywende toekoms

Ná jare se beplanning en die omvangryke grondwerke in 2025, staan Kanton nou op die drumpel van die eerste fase van die bouwerk van die Akademia-kampus. Dit is die fase waarin die visie van ‘n tuiste vir Afrikaanse hoër onderwys letterlik uit die stof begin verrys.
Hierdie volgende hoofstuk is op 28 November 2025 simbolies aangekondig toe Akademia en Kanton tydens ’n historiese sooispitseremonie op die Mooiplaats-terrein grawe in die grond gesteek het. Dit was ’n dag wat die oorgang gemerk het van droom na daad – die begin van die grootste ontwikkeling wat die Afrikaanse kultuurgemeenskap nog in hoër onderwys aangepak het. Op dié dag het Kanton ook ‘n aanlyntoer van die fasiliteite wat in die eerste fase voltooi sal word bekendgestel.
Met ’n beleggingsomvang van R1,8 miljard en konstruksie wat in Januarie 2026 formeel afskop, lê hierdie fase die fondament vir ’n kampus waar jongmense nie net kennis sal ontvang nie, maar waar hul karakter gevorm sal word met die oog op ‘n vrye toekoms.
Kanton pak die konstruksiefase van die projek aan saam met JC van der Linde en Venter Bouers as hoofkontrakteurs. Dieselfde span het die Sol-Tech-kampus betyds én onder begroting afgelewer, ’n bewys van die vakmanskap en projekdissipline waarop hierdie ontwikkeling staan.
Kanton se benadering tot hierdie ontwikkeling is eenvoudig: wanneer kultuur en kapitaal in ’n vennootskap saamwerk, ontstaan ’n wen-wen situasie waar die uitkoms groter is as die som van sy dele. Uitvoerende direkteur, Henk Schalekamp, verduidelik dat ware groei plaasvind wanneer kapitaal doelbewus ruimte skep vir ’n gemeenskap se kultuur om te floreer, en daardie kultuur op sy beurt aan die vereistes van volhoubaarheid voldoen. Só ontstaan ’n vennootskap wat finansiële en kulturele opbrengste lewer. “Hierdie kampus is nie net ’n belegging nie. Dit is ’n verbintenis tot die voortsetting van Afrikaanse hoër onderwys as ’n lewende erfenis, ‘n wen vir kapitaal en ‘n wen vir kultuur.” sê hy. JD Symington, uitvoerende direkteur van Pallidus beaam dit: “Om ‘n vennootskap tussen kultuur en kapitaal te skep is nie 50% kultuur en 50% kapitaal nie, maar 100% kultuur en 100% kapitaal.” Akademia se besturende direkteur, Marthinus Visser, voeg by: “Hier word nie net ’n kampus opgerig nie; hier word ’n tuiste geskep vir toekomstige generasies studente wat in Afrikaans wil leer en leef.”
Hierdie ruimtes sal in fase een voltooi word:
In die eerste boufase ontwikkel Kanton die fondasie van die kampus wat die toekomstige ritme, energie en identiteit sal vorm. Die volgende sleutelkomponente sal tydens dié fase op kampus voltooi word (Klik op die opskrifte om ons aanlyn-terreintoer te onderneem):
Die Poort
Die Poort is die ikoniese ingang tot die kampus; ’n oorgang tussen die alledaagse en die wêreld van studie, vorming en nuwe moontlikhede. Geïnspireer deur die Forums van Rome en die tempelkomplekse van Karnak in Egipte, bring die groot boë en kolonnades ’n gevoel van orde, balans en waardigheid. Die reeks agt boë, elk veertien meter hoog, vorm die hooftoegang vir studente, personeel en gaste en lei besoekers na die hart van die kampus.

Die Akademiese Node
Die Akademiese Node, geleë op die mooiste deel van die terrein, vorm die kern van die kampuslewe. Dit sal voorsiening maak vir vyf-duisend studente en sluit kantoorblokke, lesingsale, laboratoriums, ’n ouditorium, navorsingslokale, ’n kafeteria, restaurante, koffiewinkels, ’n studentesentrum, biblioteek en personeelverblyf in. Hier kom leer, leef en navorsing op ’n natuurlike manier saam in ’n ruimte wat Akademia se roeping om denke én hart te vorm, dra.

Die Koepel
Die Koepel word die visuele baken van die kampus. Met sy ontwerp wat herinner aan die Pantheon in Rome en die Voortrekkermonument, simboliseer dit kennis wat alles omarm, geloof wat alles dra en ’n gemeenskap wat saam groei. Die staal-en-glasstruktuur is twintig meter hoog met ’n deursnee van twee en dertig meter, waardeur natuurlike lig volop na binne vloei en ’n oop, uitnodigende karakter skep.

Die Kapelplein
Die Kapelplein is die geestelike spilpunt van die ontwikkeling. Die waterkanale en formele tuine, geïnspireer deur Villa d’Este en Hadrianus se villa, skep ’n rustige omgewing vir seremonies, vieringe en ontmoetings. Met plek vir drie-honderd mense word dit ’n ruimte waar die waardes van die kampus tot uitdrukking kom en waar gemeenskap verdiep.

Die Lesingsale
Die lesingsale is liggevulde, moderne ruimtes waar Afrikaans as akademiese taal ten volle tot sy reg kom. Met sitplek vir 100 tot 300 studente per saal, moderne klank- en beligtingstelsels, natuurlike ventilasie en geïntegreerde slimtegnologie, word dit gebruik vir lesings, seminare, eksamens en groepaanbiedings. Hier word kennis nie net oorgedra nie, maar beleef.

Die Studentesentrum
Die Studentesentrum is die hart van kampuslewe. Die 2 500 vierkante meter veeldoelige sentrum, met kapasiteit vir vyf-honderd mense, bied eetplekke, koffiewinkels, winkels en studieruimtes. Dit is ’n tuiste vir saamwees, deelname en studentelewe in sy volheid.

Die Amfiteater
Die Amfiteater, geïnspireer deur klassieke Griekse ontwerp, bied ’n statige, oop ruimte vir groot kampusgeleenthede. Met sitplek vir 1 500 mense, ’n moderne skadustruktuur en ’n sagte grashelling, word dit die omgewing vir gradeplegtighede, konserte, debatte en filmvertonings. Dit is ’n plek waar die hele studentegemeenskap bymekaar kom om fees te vier en saam te groei.

Die nalatenskap wat hier begin
Die eerste fase van die bouwerk aan die Akademia-kampus maak die droom van ’n wêreldklas Afrikaanse kampus tasbaar. Hier, in hierdie eerste strukture, lê die belofte van geslagte wat gaan leer, dink, leef en bou. Die grond is gereed, die bouwerk begin, en ’n nuwe hoofstuk vir Afrikaanse hoër onderwys verrys nou uit die stof. Wat hier gebou word, behoort nie net aan vandag nie, maar aan almal wat ná ons kom.